Wanneer ‘n room nie genoeg is nie
 

Die nuutste teenverouderingsrome kan al klein wonderwerkies verrig, maar soms is ‘n room net nie genoeg nie. Gelukkig is plastiese chirurgie of ander indringende prosedures nie meer die enigste uitweg nie. Daar is nou behandelinge wat so vinnig en maklik gedoen kan word dat jy dit vir jou etensuur kan skeduleer. Vir hierdie nie-chirurgiese metodes hoef jy nie in die hospitaal opgeneem te word nie, en daar is min of geen af-tyd nodig nie, en kan omtrent almal binne een uur afgehandel word. Hier verduidelik ons hoe hierdie prosedures werk, sodat jy self kan besluit of dit vir jou sal werk of nie. Onthou dat hierdie behandelinge nie risiko-vry is nie, so doen jou huiswerk en kies terapeute wat aanbeveel word deur ander mense. Die pryse wat ek hier ingesluit het is net ‘n gids, en mag verskil afhangende van die produkte, terapeute en waarvoor jy behandel word.
Deur Emmy Schofield. Foto: Johan Wilke.

 
Mikrodermabrasie
Aliminium-kristalle word teen ‘n hoë druk teen die vel geblaas om dooie velselle te verwyder. Dit word dan opgesuig, en al wat oorbly is ‘n pragtige gladde vel. Dit kan help om fyn lyntjies, plooie, pigmentasievlekke en littekens ligter te laat lyk. Gewoonlik word ‘n kursus van 4 tot 6 behandelings aanbeveel wat opgevolg moet word met maandelikse behandeling vir die beste resultate. Dra elke dag na jou behandeling ‘n hoë faktor sonskerm omdat jou vel meer geneig sal wees om te brand. Die behandeling word gewoonlik op sy eie aangebied, maar sommige salonne doen dit saam met die gesigsbehandelinge. Jy kan verwag om vanaf omtrent R350 per behandeling te betaal.


Chemiese afskilfering
‘n Suur-oplossing (gewoonlik glikoliese suur) word op die vel aangewend om die boonstel vellae te verwyder. Die sterkte van die suur wat gebruik word, sal bepaal hoe diep die afskilfering sal wees. ‘n Ligte afskilfering sal net die dooie velselle verwyder; ‘n medium afskilfering sal daarop fokus om fyn lyntjies minder opsigtelik te maak, terwyl ‘n sterk afskilfering dieper sal binnedring om plooie en littekens te verwyder. Na ‘n ligte afskilfering sal jou vel effens pienk wees vir ‘n paar uur, terwyl ‘n sterk afskilfering jou vel rooi sal maak vir ‘n paar dae voordat die vel afdop. Weer eens moet jy baie versigtig wees om nie te brand nie, omdat jou vel baie sensitief vir sonskade sal wees. Pryse wissel afhangende van hoe sterk die afskilfering is, en kan vanaf sowat R400 per sessie kos.


Botox
Botox is een van die behandelinge wat die vinnigste toeneem in gewildheid. Dit is oorspronklik gebruik om oog-spasmas te beheer, maar is deur die FDA in 2002 goedgekeur vir kosmetiese gebruik. Botox bestaan uit ‘n proteien-kompleks genaamd botulinum toksiene tipe A, dieselfde toksiene wat vir voedselvergiftiging verantwoordelik is. Maar moenie dat dit jou afsit nie! Die dosisse wat vir kosmetiese gebruik aangewend word sal jou geensins benadeel nie. Dit blokkeer die neurotransmittors wat verantwoordelik is vir spierbeweging wat plooie veroorsaak. Botox kan gebruik word om lyne en plooie rondom die oë en op die voorkop te behandel. Die Kaapse estetiese praktisyn Dr Nikolic stel voor dat mens slegs die boonste deel van die gesig met Botox behandel, en die onderste deel met vullers, anders lyk mens se gesig te styf en uitdrukkingloos. Besoek www.aestheticfacialenhancement.co.za vir meer inligting. Effense rooiheid en kneusing kan voorkom waar die naald ingedruk is. Die resultate sal na ‘n paar dae sigbaar word. Pryse wissel baie, maar gaan eerder na ‘n spesialis wat ‘n goeie reputasie het, omdat die sukses van die behandeling afhang van die spesialis se vermoë. Skin Renewal Clinics bied Botox aan teen R60 per eenheid – jou voorkop sal byvoorbeeld 15 eenhede nodig hê m.a.w. sowat R900. www.skinrenewal.co.za


Vullers
Die bekenste handelsname is Juvederm, Restylane en Perlane en bestaan almal uit hialuroonsuur wat ‘n natuurlike menslike proteien is. Soos ons ouer word, neem hialuroonsuur-vlakke in die vel af, wat veroorsaak dat die vel sak, wat ons ouer laat lyk. Die nuwer produkte bevat natuurlike kollageen wat die vel opplomp, maar is nog nie orals in Suid-Afrika beskikbaar nie. Vullers word letterlik gebruik om te vul – lippe, plooie en wange kan opgeplomp word. Dit kan ook gebruik word om die vel se eie kollageenproduksie te stimuleer. Die oplossing word met baie dun naalde in die betrokke areas ingespuit, en die resultate is dadelik sigbaar. Die areas mag effens geswel wees vir ‘n paar dae. Behandeling kos vanaf R2 800 per buisie.


Lig- en radiofrekwensie
Lig- en radiofrekwensies is baie suksesvolle maniere om kollageenproduksie te stimuleer. Die vel word verhit om skade soos plooie te herstel. Die mees gewildste weergawes is IPL (Intense Pulsed Light) en Limelight om spinnerakaartjies en donker vlekke te herstel; Titan Radio frekwensie word gebruik om die vel fermer te maak; Acutip 500 help om pigmentasievlekke, littekens en ouderdomsvlekke te verwyder; PDT (Photo Dynamic Therapy) gebruik ‘n kombinasie van blou, rooi en geel lig van verskeie golflengtes om ‘n reeks probleme te herstel. Die proses is glad nie seer nie, en behalwe vir effense rooiheid, is daar geen ander newe-effekte nie. Dit kan vanaf sowat R300 per sessie kos.


Fraxel-laserbehandelinge
Hierdie is een van die meer ekstreme opsies. Fraxel laser stuur skerp polsings “fraxelated” lig na die gesig. Dit fokus op beskadigde selle, en los die gesonde selle heeltemal uit. Dit kan gebruik word op plooie, littekens en ouderdomsvlekke te behandel. Danksy ‘n verdowingsroompie; is die prosedure meer ongemaklik as seer. Die af-tyd sal afhang van die sterkte van die prosedure wat gebruik is. Die ergste newe-effekte is rooi vel wat lyk asof dit deur die son gebrand is vir een of twee dae voordat dit in ‘n bruin lagie verander wat ‘n week neem om af te skilfer. Kostes wissel heelwat, maar jy kan verwag om ten minste R1 200 per besoek te betaal. www.fraxel.com

 
2010-07-02
back

 
 

 


  

  


 


 



 

  


Contact Caxton Magazines on
(011) 889 0600
or
click here
to go to the website.

Subscription queries: 011 473 8700